Lukas vereer vir sy sakevernuf
Daar is seker nie 'n klavier in Brackenfell wat nog nie onder die kundige hande van die klavierstemmer, Lukas van der Walt, deurgeloop het nie.
Lukas, 'n klavierstemmer van formaat, het sy onderneming in 1979 op die dorp gestig en is vandag nog net so gewild soos toentertyd.
As veteraan-sakeman en eienaar van een van die oudste ondernemings in Brackenfell, is hy verlede week vereer by 'n ontbyt van die AHI Tygerberg se Oostenberg-sakekamer.
Die geleentheid het Woensdagoggend by die Kuilsrivier-gholfklub plaasgevind.
In 'n toespraak het Marian Nieuwoudt, wykraadslid, vir Lukas beskryf as die tipe sakeman wat deel is van die tradisionele sakekultuur wat eie aan die dorp is.
Sy beskryf die kultuur as volg: "Die mense in Brackenfell is lojaal aan mekaar en sien om na mekaar. Toe ek baie jare gelede in Brackenfell ingetrek het, het ek die volgende dag 'n koekie seep ontvang van die plaaslike apteek met 'n briefie aan om my spesiaal welkom te heet in die dorp - iets wat die spesifieke apteek tot vandag toe nog doen," vertel sy.
"As sakeman kan Lukas met trots sy storie aan die vlagpaal hang.
"Sy sukses as sakeman spreek van deursettingsvermoe, ongelooflike selfdissipline en 'n ysterwil," het sy gesê en horn bedank vir die voorbeeld van integriteit wat hy oor die jare aan die sakegemeenskap gestel het.
Lukas vertel dat hy die dorp saam met sy onderneming sien groei het.
Hy het eers vanuit sy huis gewerk en vandaar getrek na die enigste ou gewelgebou in die dorp, die een langs die NG Moedergemeente.
Vandag is sy winkel, Lukas van der Walt-klavierstemmers, of Lukas Klaviere, soos almal horn ken, in Jeanettestraat geleë.
Waar hy destyds slegs klaviere vir skole in die Kaap gestem, verhuur en herstel het, verkoop hy vandag klaviere.
"In die laat 70's was Brackenfell-boulevard nog 'n skoolpad en Frans Conradie-rylaan het nog nie bestaan nie.
"Die hipermark was nog nie gebou nie en daar was bitter min ondernemings op die dorp met net een destydse Mobil-vulstasie, vertel hy.
"Ek het destyds die kontrak by die onderwysdepartement gekry om skoolklaviere te stem en al my sake was afkomstig van Kaapstad.
"Vandag kry ek sowat 15% van my sake uit Brackenfell," se hy.
As 'n blinde persoon het Lukas besluit om 'n klavierstemmer te word - 'n beroep wat op daardie tydstip baie gewild was onder blinde persone.
"As ek kon sien, sou ek seker 'n ingenieur geword het," skerts hy.
Hy skryf sy sukses toe aan gehaltewerk en betroubaarheid en dat hy nog nooit sy telefoonnommer verander het nie.
"Brackenfell is 'n spoggerige dorp en ek is baie trots op ons gemeenskap.
"Dis 'n lojale gemeenskap wat die onder¬nemings in hul eie dorp ondersteun, wat ons plaaslike ekonomie in staat stel om te groei," sê hy.